Omtrent Ons
Jasco Christen uitgewers – ’n opsommende oorsig
Jasco Christen Uitgewers was gestig om:
- Die boeke van Wikus Maritz uit te gee.
- Om ‘n vriend by te staan in die uitgee van sy skryfwerk. Hierdie doel is later laat vaar.
- So, huidig is Jasco Christen Uitgewers eintlik maar net ‘n naam waaronder Wikus Maritz se boeke versprei word.
- Maar, die droom bly om die uitgewers-aktiwiteit verder uit te brei na ander Christen-outeurs.
- Met hierdie webtuiste wil ons ook die Christen webjoernaal Boodskap vir die dag publiseer en mettertyd die bereik daarvan uitbrei.
Wikus Maritz –
’n kort opsommende kennismaking
Wikus Maritz is die Christen Skrywersnaam van Jasper Coetzee. Hy is ‘n gewone gelowige wat skryf vir die gewone man/vrou wat die Drie-enige God in Gees en in Waarheid wil dien.
Sy sekulêre beroep is dié van ’n instandhoudingsingenieur wat hy vanuit ’n professionele praktyk beoefen. Hy is betrokke in die gee van hulp aan instandhouding-leiers om uitmuntendheid te bereik, en in die opleiding van instandhoudingsmense. Lees meer oor sy sekulêre bedrywighede by https://jasper-coetzee.org
Hy het in die instandhoudingswêreld al ’n hele paar handboeke, opleidingsgidse en artikels onder sy eie naam gepubliseer. Hy het dus besluit om Christelike skryfwerk onder ’n die skrywersnaam, Wikus Maritz, uit te gee (Wikus is afgelei van sy tweede voornaam, Lodewikus, en Maritz is sy ma se nooiensvan).
Jasper is ‘n Gereformeerde Baptis. Sy teologiese fondamente is stewig geanker in die Calvinisme (as ‘n samevatting van die totale waarheid soos vervat in die Woord van God en soos deur die eeue verstaan deur regsinnige gelowiges).
Hy vra dat diegene wat hom en sy tekortkominge ken, verby hom moet kyk na die Ewige Prins van Vrede, Jesus Christus.
Die leser kan, net soos Jasper, sy/haar volle vertroue stel in die geregtigheid wat Jesus Christus vir Sy gunsgenote aan die kruis op Golgota verdien het en wat die enigste weg tot die saligheid is.
Iets meer oor Wikus Maritz en Jasco Christen Uitgewers
Waarom doen Wikus Maritz wat hy doen? Wat dryf hom aan? Die groot dryfveer is ’n passie om die Evangelie te versprei. Maar, waarom is dit só. Wikus het week na week onder die prediking van sy vriend, Nico van der Walt, gesit. En Nico het die lees van goeie Gereformeerde boeke baie sterk aanbeveel.
Dit het gelei tot die opbou van ’n goeie biblioteek. En die kragtige preke en die lees van hierdie boeke het gelei tot ’n drang om dit verder na mense deur te gee. Die rede is eenvoudig. Wikus het geestelik vetter en vetter geword vanweë die geestelike vaste voedsel wat hy ingeneem het. Tot só ’n mate dat hy gevoel het dat hy sal oopbars as hy dit nie met ander deel nie.
En hierdie passie groei steeds.
So, die groot ding is om die evangelie te versprei, en spesifiek onder Afrikaans-sprekendes.
As gevolg hiervan is die boeke beskikbaar teen ’n baie lae koste. Eintlik wil ons die boeke gratis beskikbaar maak, maar daar is vier redes waarom dit nie ’n goeie idee is nie.
1. Die eerste is dat organisasies soos Amazon ’n minimum prys-perk stel – hulle is tog in die besigheid van boeke verkoop vir ’n wins-opbrengs.
2. Die tweede rede is dat ons tog ’n produksie-koste het om die boeke saam te stel, taalkundig te versorg, en dit te versprei.
3. Die derde rede is dat ons die inkome van boeke skenk aan kinderhuise. Hoe meer inkome ons dus inkry, hoe meer kan ons hierdie aksie sinvol deurvoer.
4. En dan is dit ook só dat mense gratis boeke maklik aflaai of bestel, maar dit dan nie lees nie, want dit het mos niks gekos nie. Só, deur ’n prys op die boeke te plaas probeer ons sekermaak dat die koper waarlik die boek wil bekom om dit te lees.
Die bydraes aan kinderhuise
Een van die slegste effekte van ons politieke bedeling is dat daar ’n kroniese gebrek aan fondse vir kinderhuise en soortgelyke sorg-organisasies is. Dit is dus ’n tweede droom van Wikus om die boeke en ander materiaal wat hy skryf en uitgee, om te sit in fondse wat na kinderhuise gekanaliseer word. As gevolg hiervan sluit hierdie webtuiste ook ’n fasiliteit in om skenkings te ontvang wat dan na kinderhuise gekanaliseer sal word. Jasco Christen Uitgewers se koste word verhaal vanuit boekverkope en fondse voorsien deur Wikus self. Donasies word net so deurgegee aan kinderhuise.
Om God te ken
Net vir volledigheid ’n iets oor Wikus se geloofsbasis.
Wikus is ’n Gereformeerde Baptis. Wat beteken dit? Dat hy ’n kind van die reformasie is. Hy onderskryf die 1689 Baptiste-belydenis wat een van die groot parallelle reformatoriese geloofsbelydenisse is. Die ander twee wat welbekend is, is die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Westminister Confession of Faith. Die gemeenskaplike draad in hierdie groot geloofsbelydenisse is dat hulle getipeer kan word as Calvinistiese belydenisse.
As sulks onderskryf Wikus ook die vyf Solas van die Reformasie, naamlik:
- Sola Scriptura: Redding word verkry gebaseer op die waarheid bevat in die Bybel alleen. Niks meer is nodig nie.
- Solus Christus: Redding is bewerk deur Christus alleen. Sy offer is voldoende om ’n sondaar se skuld volledig te delg.
- Sola Fide: Redding word verkry deur geloof alleen.
- Sola Gratia: Redding is deur genade alleen. Geen werk of bydrae van die sondaar self is nodig vir sy/haar redding nie.
- Soli Deo Gloria: Redding se uitsluitlike doel is die verheerliking van God.
Kantoor Ure
Maandae tot Vrydae
8h00 - 17h00
Jasco Christen Uitgewers
Kontak
Elgar straat 15, SW5, Vanderbijlpark, Gauteng, 1911
061 932 1629
jasper.coetzee@jasper-coetzee.org